Liewe ouer,

U kind in Gr. 7 betree volgende jaar ‘n splinternuwe wêreld – die Hoërskool.
Dit gaan baie eise aan hom/haar stel waarvoor hy/sy aanpassings sal moet maak en homself/haarself moet voorberei.

Boonop moet u kind nou in sy/haar lewe hom/haarself leer ken en hanteer.
Hulle gaan ‘n stadium van geestelike en liggaamlike veranderings deur.
Hulle het behoefte aan simpatieke en positiewe belangstelling en leiding.

Die kerk wil graag u as ouer se hande neem en sterk in hierdie groot taak. Dit is immers die kerk se verantwoordelikheid om hulp en voorligting aan ons jongmense te gee in al hul lewensverbande. Daarom reël ons weer ‘n SUPERSEWE KAMP vir 2019 se graad 7-leerlinge.

‘n Gebalanseerde program word aangebied, ons praat onder andere oor:

• Weet jy dat God jou lief het?
• Dat jy ook die lewe mag geniet
• Wat kan ek verwag van Hoërskool
• Hoe lyk my verhouding met my ouers? Ek en my maats
• Ek word nou groot… en baie meer
Daarby bied ons ook gesonde ontspanning en sport vir lekker afwisseling.
Die kamp word aangebied deur die NG Gemeentes in die Wesrand. Kinders van alle kerkverbande is natuurlik welkom! Die leiding van die kamp is in die hande van leraars uit die onderskeie gemeentes. Die kamp geskied onder streng dissipline en volwasse toesig en daar word met groot besorgdheid na die kinders omgesien.

U kind mag nie SUPERSEWE 2019 mis nie!!!!!